Gaan na die HSS Tuisblad!
  Besoek F1 in skole se SA webwerf! Besoek Zeallous Racing se webwerf!
Drama

2010

Stellies wen beste produksie by Klein Libertas Toneelfees!

Hoërskool Stellenbosch se toneelgroep het behoorlik geskitter by vanjaar se Klein Libertas Tiener Toneelfees deur met die louere weg te stap in verskeie kategorieë, insluitend dié vir beste produksie!

Die teks Poppespel is 'n werkswinkel teaterstuk onder leiding van aktrise en dramaturg Esther von Waltsleben. Haar visie vir die teks en uiters professionele samestelling van dialoog het van Poppespel 'n unieke en treffende produksie gemaak.

Die teks is nie net bloot die uitlewing van emosie nie, maar lewer ook kommentaar op die realiteit van mensehandel. Hierdie is wel 'n swaar tema en dus is dit nog méér van 'n prestasie dat leerders in onderskeidelik graad 10, 11 en 12 die sensitiwiteit kon handhaaf om die belangrike storie van drie klein dogtertjies in gevangeneskap te vertel.

Toneelgroep

Ons toneelgroep: Agter (vlnr): Louise Hunlun (Drama-leerkrag), Handré Bosman, André Cruywagen (Leerkrag: vervoer en ondersteuning), Marleen Bruwer, Francois Marais. Voor (vlnr): Heidi du Toit, Christia Visser, Marissa Fourie, Liezl Vermeulen, Katheer Ontong, Ruan Joubert.

Die toneelgroep is uitgenooi om op te tree by die gala-aand op Saterdag, 14 Augustus. Dit is hier waar die fees se beste produksies vertoon is om sake uit te spook vir die finale trofeë. Twee produksies van Hoërskool Brackenfell en een produksie van Hoërskool Durbanville was ook deel van die finale gala-aand.

Die produksie van Hoërskool Stellenbosch het die volgende toekennings ontvang:

  • beste nuutgeskrewe teks deur Esther von Waltsleben,
  • beste regie deur Esther von Waltsleben,
  • beste aktrise deur Christia Visser, asook
  • beste produksie van die Toneelfees!

Hierdie toneelgroep het vroeër ook 'n silwer toekenning in Springbok en brons by die ATKV Toneelkompetisie in Durbanville verower.

Voorwaar puik prestasies!

 

HSS Toneel toer na Springbok!

Verlede naweek het nege van Hoërskool Stellenbosch se leerders na Springbok getoer om deel te neem aan die Namakwalandse Toneelfees.

Hoërskool Namakwaland speel die laaste paar jare gasheer vir hierdie fees en onder leiding van mnr. Francois Orffer het vanjaar se aanbieding van toneel en kultuur ongelooflike sukses geniet.

Met die beoordeelaars Denise Newman en Johann Nel, sowel as mededingende skole van die Wes-Kaap (soos Durbanville en Jan van Riebeeck), het die volgende leerders van Hoërskool Stellenbosch deel gehad aan 'n belangrike leerskool:

In graad 12 was dit Marleen Bruwer (klankoperateur), Francois Marais (beligtingsoperateur), Christia Visser (aktrise), Liezl Vermeulen (aktrise), Katheer Ontong (akteur) en Handré Bosman (akteur).

Vanuit die graad 11 klas was dit Heidi du Toit (aktrise) en in graad 10 Marissa Fourie (aktrise) en Ruan Joubert (akteur).

Die toneelstuk was 'n skepping gevind en bestuur deur Esther von Waltsleben, asook die samewerking van al die bogenoemde leerders, en is bekend as Poppespel.

Poppespel

Poppespel: (vlnr) Handré Bosman, Heidi du Toit, Marissa Fourie, Liezl Vermeulen, en Christia Visser (agter tralies).

Hoërskool Stellenbosch het met trots teruggekeer met vyf silwer toekennings, vele komplimente van die beoordelaars, en ongelooflike positiewe reaksie van die gehoor. Esther von Waltsleben het twee silwer toekennings ontvang, een vir haar nuutgeskrewe teks en die tweede vir haar bydrae as regisseur.

Heidi du Toit, Marissa Fourie en Christia Visser het ook elkeen 'n silwer toekenning ontvang vir hul spel.

Baie dankie vir almal se ondersteuning gedurende die tydsame repitisietye die afgelope weke en mnr. André Cruywagen se tyd en moeite om die leerders en onderwysers veilig tuis te bring in Springbok en weer Stellenbosch.

Groot dank ook aan juf. Magdel van Zyl, en mnr. en mev. Vermeulen (Beheerliggaam) wat die geleentheid meëgemaak het en gehelp het om 'n lekker en suksesvolle naweek te verseker.

 

Súlke bekke kort jêm!

Nege redenaars van Hoërskool Stellenbosch het op 29 April 2010 aan die eerste rondte van die jaarlikse ATKV redenaarskompetisie by Hoërskool Parel Vallei deelgeneem. Die leerders was voorwaar goeie verteenwoordigers vir die skool!

André Dippenaar (senior) en Natalie Theron (junior) is albei deur na die halfeindstryd van die kompetisie. Op Vrydag, 6 Augustus 2010, verteenwoordig hulle Stellies by Hoërskool Monument Park in Kraaifontein waar die tweede rondte van die kompetisie sal plaasvind.

Ons hou styf duim vas vir hierdie twee leerders en weet dat dit uitstekend sal gaan!

 

Christia Visser presteer in Stad Kaapstad Toneelkompetisie!

Christia Visser

Hoërskool Stellenbosch het vanjaar die geleentheid gekry om deel te neem aan die Stad Kaapstad Toneelkompetisie aangebied by Hoërskool Bellville op 22 Maart 2010.

Hierdie kompetisie nooi skole uit om slegs 'n paar leerders in te skryf om meë te ding vir die beste toneelspeler op skoolvlak.

Rondte 1 vereis dat die leerders beide 'n gedig en prosateks solo moet voordra. Hierná kry elkeen dan ook 'n onvoorbereide improvisasie om op te voer.

Bykans 400 skoolleerders van regoor die Wes-Kaap het aan vanjaar se kompetisie deelgeneem en slegs 69 kandidate is gekeur om na die volgende rondte deur te dring.

Christia het gevorder na rondte 2 waar 30 leerders betrokke was en waar sy weer eens geslaag het en tot rondte 3 bevorder is, waar slegs 16 leerders deelgeneem het.

Hierdie is werklik 'n besonderse prestasie vir Christia en Hoërskool Stellenbosch. Die geleentheid om op die verhoog van die Kunstekaap hul skool se naam hoog te hou, was slegs beskore vir 'n paar leerders in ons land. Christia was die enigste leerder wat die Stellensbosch-omgewing verteenwoordig het tot en met rondte 3.

Ons sê baie geluk vir Christia, nie net vir haar prestasie in Drama nie, maar ook vir haar uiters professionele gedrag en optrede rondom beoordelaars, mede-deelnemers en onderwysers van ander deelnemende skole!

 

Ryan Carollisen beïndruk met Ubuntu toneelstuk!

Hoërskool Stellenbosch is vanjaar genader om deel te neem aan die eerste Film en Teater-fees aangebied deur die organisasie LivingIt.

Ryan Carollisen

Hierdie inisiatief is geneem om skole - en meer spesifiek leerders - betrokke te kry by die konsep van Ubuntu, of anders gestel Eenheid.

Leerders moes nadink oor hierdie konsep, besef wat dit vir hulle beteken en sodoende 'n wêreld verbeel waar ons as mensdom kan saamleef, saamleer en saamgroei tot 'n beter lewe vir almal. Die leerders skep hieruit dan hul eie tekste vir 'n drama waarin 'n verhaal oorvertel word wat hierdie konsep van Ubuntu bevorder en illustreer.

Leerders van hoofsaaklik grade 11 en 12 het vir hierdie projek ingeskryf a.g.v. die gewig en erns van die projek. Stellies se graad 9 leerder, Ryan Carollisen, het egter die beoordeelaars met sy kortfilm Decisions verstom en het deurgedring na die finale rondte vir hierdie kompetisie!

Die finale uitdunne het plaasgevind Sondagaand, 9 Mei 2010, by die Oude Libertas-ouditorium. Ryan het die aand twee sertifikate ontvang vir sy kortfilm. Die eerste een was om sy deelname aan die kompetisie te bevestig en die tweede een het hom aangewys as mees belowende filmmaker van die kompetisie!

Ons wens Ryan baie geluk met sy prestasie en sy puik werk om die konsep van Ubuntu op 'n individualistiese en pragtige wyse uit te beeld op film!

 

Toneelaand: 5 Mei 2010

In samewerking met Hoërskool Stellenbosch se Kultuurweek is daar Woensdag-aand, 5 Mei 2010, 'n toneelaand gehou om ons skool se talent in die Drama ten toon te stel.

Hierdie geleentheid was 'n produk van die leerders se eie kreatiwiteit en het vir 'n ieder en elk 'n tikkie komedie, vragte drama en dalk net 'n beduidenis van tragedie aangebied!

Die vertoning het 'n voorskou van die Graad 12 Dramaklas se finale eksamen, 'n kabaret, en die graad 9 SPR Dramaklas se eie Werkswinkel Projek Hoekom is jy, djy? vertoon.

Hoër Meisieskool Bloemhof het ook 'n produksie genaamd Mallewales kom opvoer wat die leerders van Hoërskool Stellenbosch baie geniet het!

Die aand is aangebied deur die graad 8 SPR Dramaklas van 2010 en hulle het die groot taak van aanbieding, verhoogwerk en algehele bestuur besonder goed hanteer!

Ons hoop om binnekort wéér so 'n aand aan te bied met nuwe talent en meer intrige, so hou die ore en oë oop gedurende die tweede kwartaal!