Stellies gaande oor Namibië sporttoer!
Gedurende die eerste week van die Junie-vakansie het 'n groot groep spelers van ons skool se eerste rugby-, hokkie- en netbal-spanne in Namibië getoer.
Janneke Lötter het 'n paar toerlede genader en hulle kommentaar gekry oor hul ervaringe van die toer (let daarop dat dit die ongeredigeerde uit-die-perd-se-bek weergawe is!):
***
"Die toer was 'n regte Hoërskool Stellenbosch-toer. Byna al die wedstryde is gewen, sonder dat daar enige druk op ons was en daar was deurgaans 'n rustige, gesellige atmosfeer.
"Die toer het 'n lekker roetine gehad. Mnr. Schlechter het elke dag se reëlings die aand vooraf vir ons deurgegee. So het ons elke dag geweet hoe laat ons by die bus moet wees, en ons kon self beplan hoe laat om op te staan en ontbyt te gaan haal waar Mnr. Schlechter dit elke oggend vir ons uitgesit het. Ons het genoeg by winkels aangegaan. Dit het definitief vir die leerders geleer van verantwoordelikheid en beplanning." - Janneke Lötter
***
"Die Namibiëtoer was 'n reuse-ondervinding en dit was baie goed beplan. Alles was lekker en ek sal niks wil verbeter nie. Die toer was regtig baie awesome! Dit was die moeite werd vir die geld wat ons betaal het!" - Meisieshokkie, graad 11
***
"Ek het baie goeie herinneringe aan die toer. Namibië was ongelooflik mooi; ek weet regtig nie waaroor almal kla nie. Die ontspanne atmosfeer, lekker kos en goeie verblyf het alles bygedra tot die positiewe ervaring. Die hoofbestanddeel vir die sukses was egter die mense. Hulle was interessant, verrassend, spontaan en geesdriftig. Sonder elke deelnemer en onderwyser sou die toer 'n heel ander ervaring gewees het." - Seunshokkie, graad 12
***
"Die toer was amazing en net lank genoeg. Bustrip nie pret nie, maar tog eintlik lekker. Wat uitgestaan het, was die quadbike in die duine en toe ons vir Walvisbaai gewen het. Ek sou graag teen Windhoek ook wou gespeel het om te kan sê ons is die beste." - Rugby, graad 11
***
"Een van daai om-te-doen dinge voor jy 'n hoofstuk van jou lewe afsluit, waar jy sien waarvan die persoon langs jou regtig gemaak is en waaroor jy tot ver in die toekoms nog jou eie weergawe van 'n verhaal gaan vertel van hoe jy dit sal wil onthou. M.a.w., by tye mmm-simply magic!" - Rugby, graad 12
***

"Wel, die gees van die mense het uitgestaan. Die verkenning van die plek was ook cool. Verander? Ek sal in Windhoek ook wil toer net sodat ons meer in aanraking kan kom met ander mense. Ek sou meer games wil speel en langer wil toer." - Seunshokkie, graad 12
***
"Die plek, eerstens, kon nie beter gewees het nie. Om Namibië te ervaar, was die lekkerste; die verblyf was waarde vir geld, beslis! Wat uitgestaan het, was hoe die leerders mekaar aanvaar en leer ken het deur die toer. Dit het iets in ons rugbyspan gesit wat nie van tevore daar was nie. - Rugby, graad 12
***
"Die gees was great en ook die nuwe vriendskappe wat gevorm is. Die 4-wiel in die aand, die bootrit en die skoollied aan die einde van die laaste wedstryd teen Walvis het vir my uitgestaan . Ek sou baie graag duine met 'n bord wou gery het - ek dink ons het daar iets gemis. En dalk meer oefen of vroeër iets saam doen. Ek het te laat in die oggend opgestaan. (My fout ook!) All in all, dit was awesome!" - Netbal, graad 12
***

"Die sporttoer was vir my 'n bitter lekker ervaring wat ek nie sommer sal vergeet nie. Ek voel ons het gebond tussen sportsoorte (mekaar ondersteun) en dit was nodig. Die busdrywers het vir my uitgestaan omdat hulle positiewe gesindhede en vriendelike gesigte so onverwags was. Hulle het die toer vir my gemaak! Ons het baie meer kos gekry as wat ek verwag het! Dit sou lekker gewees het as almal op dieselfde plek gebly het. Mnr. Schlechter het die ekstra myl gegaan om dit vir ons lekker te maak, en ek waardeer dit baie!" - Netbal, graad 12
***
"Dit was regtig vir my 'n belewenis. Behalwe vir die goeie geleentheid wat dit aan baie kinders bied om Afrika te sien en te beleef, is dit fantasties om mense in jou skool op 'n ander vlak te leer ken. Daar is nie net baie sterk bande tussen die spanlede van verskeie spanne gevorm nie, maar die vier spanne het een Stellie-span gevorm. Die gees was besonders en die goeie uitslae het gehelp om spanne positief en gemotiveerd te kry vir die res van die seisoen. Ek dink HSS kan trots wees op 'n suksesvolle Namibië toer 2010 - hopelik een van vele wat voorlê!" - Netbal, graad 11
***

"Ek dink dit was baie goed georganiseer en die onderwysers het uit hulle pad gegaan om dit vir ons so gerieflik en opwindend as moontlik te maak. Hulle verdien baie lof vir die manier waarop alles georganiseer en hanteer is. Dit bou gees in die spanne en die skool sal beslis die resultate sien. Dit is 'n moet vir toekomstige jare in my opinie." - Seunshokkie, graad 12
***
"Die toer was regtig baie lekker en ek dink almal kon mekaar beter leer ken. Al die goed wat ons gedoen het, was ook regtig baie lekker en ek sal nooit Duin 7 vergeet nie - dit was nogal 'n belewenis! Ek wil nie eintlik iets verbeter nie - dit was great! - Meisieshokkie, graad 10
***
|