Hoërskool Stellenbosch vier die Kunste!
2010
KWEEK! 2010 in oënskou
In die week van 3 tot 7 Mei 2010 het die MR-kultuurkomitee weer uitstekende werk gelewer met die aanbieding van KWEEK! 2010.
Die week het Maandag afgeskop met Pretty Blue Guns en Soetbek wat die lagspiere behoorlik geprikkel het, asook 'n Klassieke aand met 'n kinkel (Weet jou (ou)ma jy's hier?) aangebied deur die musiekdepartement van Hoërskool Stellenbosch. 'n Baie spesiale gaskunstenaar van Hoërskool Stellenberg, Ndumiso Manana, het die hartsnare geroer met sy pragtige sangstem. Mnr. Malan het ook weer eens sy uitmuntende sangtalent(?!?) met ons gedeel, maar hierdie keer met mnr. Cruywagen in die stoel (Is sy hare nou minder?).
Dinsdag het ons eie leerders gewys wat hulle van die wêreld dink in die gewilde "Bekgeveg" aangebied deur Skoorsteen. Die groep Kaleidoskoop is ná die week menige leerder se gunsteling. CDs is beskikbaar by die sekretaresse.
Woensdag en Donderdag het produksies gelewer soos ART, wat werklike dramatiese vryheid getoon het, asook Gys de Villiers met 'n uitstekende eenmanvertoning, Die Groen Ghoen, wat omgewingsbewustheid aangemoedig het. Die Toneelaand, met ons eie leerders, asook leerders van Bloemhof, het baie belowende talent getoon. Daar was goeie balans tussen humor en erns en die leerders se professionele gedrag het beïndruk. Die 'bands' Tribal Echo, Stephan Cloete (covers band) en natuurlik die groot hoogtepunt, Heuwels Fantasties, het vir groot opwinding gesorg.
Die week is afgesluit met die eerste rondte van ons leerders se eie talentkompetisie, Stage. Die belangstelling was groot en daar was meer as 20 items. Die kompetisie se volgende rondte sal in die derde kwartaal afgehandel word en ons sien uit daarna om die vordering van ons leerders dop te hou!
KWEEK 2010 - voorwaar 'n groot sukses!
Sien vorige jare se KWEEK!-programme in die KWEEK! argief!
|