Gaan na die HSS Tuisblad!
  Besoek F1 in skole se SA webwerf! Besoek Zeallous Racing se webwerf!
Oorsig: Huis du Preez

Huis du Preez

Die skool se koshuis, Huis du Preez, is op die skoolterrein geleë. Al die slaapkamers kyk uit op Simonsberg of Stellenboschberg. Hier heers 'n rustigheid en die druk van die dorp se bedrywighede is tot 'n minimum beperk.

Huis du Preez kan blyplek aan 220 koshuisgangers verskaf. Daar is 'n ruim studiesaal en 'n gerieflike TV/sitkamer met M-Net en video-fasiliteite.

In die dogtersvleuel kan tot vier leerders 'n kamer betrek, terwyl die seunsvleuel bestaan uit dubbelkamers en 2 kamers waar 4 seuns gehuisves word. Leerders word gewoonlik ingedeel volgens grade. Die graad 8- en 9-leerders studeer in die studiesaal en die ander leerders in hul kamers.

Vir musiekleerlinge is daar 4 ruim oefenkamers beskikbaar.

Huis du Preez beskik ook oor e-pos en internet verbinding. Kommunikasie via e-pos bring die ouerhuis op so 'n wyse nader aan die leerders.

Die koshuis is goed geleë op die terrein en is naby al die sportvelde en skool. Alle koshuisgangers kan dus sonder enige ongerief en in veiligheid hulle sport- en skoolaktiwiteite beoefen.

Leerders wat aan enige ander aktiwiteite deelneem wat nie deur die skool aangebied word nie kry ruim kans hiervoor en reëlings kan getref word vir vervoer en spesifieke geleenthede.

Aan die begin van die jaar word die tuisnaweke vir die jaar aan elke ouer en koshuisganger deurgegee. Twee tuisnaweke per kwartaal word vasgestel. Met tuisnaweek moet leerders wat nie huis toe kan gaan nie, reël vir alternatiewe verblyf. (Geen personeel is dan aan diens by die koshuis nie!) Koshuisgangers kan elke naweek huis toe gaan, maar daar word van hulle verwag om hulle Saterdag-verpligtinge t.o.v. buitemuurse aktiwiteite na te kom.

Die ouers van leerders wat naweke die koshuis verlaat om na 'n ander bestemming as hulle ouerhuise te gaan, moet skriftelike kennis en toestemming gee ten opsigte van die leerders se verblyf en kontaknommers vir die betrokke tydperk. Geen leerder kan net die koshuis verlaat as daar nie vooraf gereël is met die superintendent nie.

Leerders kan weeksmiddae, asook Saterdagoggende, dorp toe gaan. Leerders kan, met die toestemming van die superintendent of diensdoenende onderwyser, een aand per naweek uitgaan. Senior leerders (graad 11) kan sonder volwasse toesig uitgaan, maar Juniors (graad 8, 9 en 10) moet deur 'n volwassene uitgeteken word. Die volwassene neem dan die verantwoordelikheid ten opsigte van die leerder. Koshuisgangers se ouers moet in beide gevalle toestemming gee vir sulke uitstappies.

Koshuisreëls word streng toegepas. Dissipline, wat tot almal se voordeel strek, heers by die skool en koshuis en verseker die leerders se veiligheid en verskaf gemoedsrus aan ouers.

Ons glo dat ons personeel baie deernis het vir die koshuisgangers en altyd beskikbaar is om hulp te verleen.

Ons glo dat leerders gelukkig is hier en daar word moeite gedoen om so ver as moontlik 'n huislike atmosfeer te skep. Dit is bekend dat daar gewoonlik 'n spesiale band tussen koshuisinwoners ontstaan, en dit is beslis ook die geval met inwoners van Huis du Preez!

 

'n Tuiste vir vele

In that book which is
My memory...
On the first page,
That is the chapter when I first met you,
Appear the words,
"Here begins a new life".


- Danté Alighieri (Vita Nuova)

As Danté se vers 'n bietjie aangepas kan word, is die ontmoeting met die koshuislewe vir baie leerders oor baie jare dalk die samevatting van: "Voorwaar, hier het 'n nuwe lewe begin!"

Êrens in ons land en in die buiteland stap honderde oud-koshuisleerders rond wat, selfs al sou hulle nie noodwendig koshuislewe positief ervaar het nie, definitief ook nie onaangeraak is deur hulle verblyf in Huis Du Preez nie.

'n Kenmerk van ons koshuisleerders is een van onafhanklik-wees, individualisties-wees, selfstandig-wees. Hulle is bymekaar geplaas vanuit alle dele van Suidelike Afrika, wat insluit Namibië, en ander dele van die buiteland. Die meeste leerders is afkomstig vanaf die westelike dele van die land, so ver as Alexanderbaai, Springbok en omliggende dorpies, die Weskus en binneland, die Karoo, en die Kaapse suidkus so ver as Port Elizabeth.

Ook die koshuisruimte wat die leerders - aanvanklik minder as 60 en tans 220 - bewoon, is dramaties op sigself en daar was soms deur die jare stormagtige onsekerheid en uitbundige selfversekerheid.

Aanvanklik het die koshuis net een gebou, slegs vir dogters, beslaan. Toe word die gebou in twee verdeel om seuns en dogters te huisves. Hierná word 'n tweeverdieping gebou aangebou.

Die aanvraag die laaste jare het veroorsaak dat elke moontlike kamer gebruik is en ekstra ruimte is omskep om kinders te huisves. Dit was egter nie genoeg nie en daar is weer aangebou - 'n drieverdieping gebou is in 2005 voltooi! Hierdie woonruimte was vanaf die eerste dag van inbruikneming volbespreek en reeds in 2007 word daar weer aandag gegee aan die ontwikkeling van ekstra woonstelgeriewe vir senior dogters.

Daar is amper nie 'n deel van die koshuis wat nie 'n storie op sigself kan vertel nie - 'n storie van spanning en konflik en vrede en rustigheid, blydskap en hartseer, vreugdes en trane, opgewondenheid en ook teleurstelling.

Die bydraes van koshuisleerders tot die skool en prestasie op akademiese, sport en kultuurgebied en leierskap was en is steeds enorm.

Die eerste koshuisvader was mnr. A. van den Berg (1977 - 1986) en hy is opgevolg deur mnre. L. Dwyer (1987 - 1995), D. van Emmenis (1996 - 1999), D. van Wyk (2000 - 2008) en D. Muller (2009 - ).

Die matrones wat oor die jare individueel of saam na kinders moes omsien, was me. Horne, Dwyer, Engelbrecht, Franken en Van Wyk.

Koshuisleerders se lewe word gerig deur: klokke, baie daarvan, koshuiskos, in- en uitteken, verslag doen van waarheen hulle wil gaan of nie wil gaan nie, kamermaats, kerk, skool en talle aktiwiteite - alles binne die dorp Stellenbosch.

Huis du Preez

Ons glo dat dit het van ons koshuiskinders mense gemaak wat suksesse en mislukkings kan hanteer, trots is op wie hulle is, trots is op hul omgewing, trots is op wat hulle kan aanbied en wat met trots hul plek in die skool en breë samelewing kan volstaan.