TOELATINGSBELEID
Hierdie Toelatingsbeleid van Hoërskool Stellenbosch is ‘n verkorte
weergawe van die amptelike Toelatingsbeleid soos goedgekeur deur die
Beheerliggaam op 19 Oktober 2000. In enige geval van twyfel of misverstand
moet die amptelike Toelatingsbeleid as die regsgeldige dokument geraadpleeg
word. Die nommering in hierdie dokument stem ooreen met die toepaslike
nommering in die amptelike dokument.
Wie om toelating aansoek moet doen
Aansoek om
toelating moet deur die ouer of voog namens elke leerder gedoen word wat nie
die vorige skooljaar as leerder in die skool teenwoordig was nie.
Prosedure by
aansoek om toelating
Alle aansoeke om toelating
tot die skool namens ‘n leerder word by die skoolhoof ingedien.
‘n Aansoek om toelating
word slegs oorweeg indien dit geskied deur die korrekte voltooiing van die
aansoekvorm wat van tyd tot tyd vir hierdie doel deur die skoolhoof in oorleg
met die beheerliggaam goedgekeur word en die aansoek vergesel word van alle
dokumentasie, of ware afskrifte daarvan, wat ingevolge die aansoekvorm voorgelê
moet wod.
‘n Aansoek om toelating
moet voor of op die laaste skooldag in Oktober van die jaar wat die jaar van
toelating voorafgaan, by die skoolhoof ingedien word met dien verstande dat -
(a) aansoeke om tot graad 8 toegelaat te word,
tot aan die einde van Januarie van die graad 8-jaar kan geskied;
en
(b) die
skoolhoof om enige gegronde rede van die tydsbepalings ten aansien van aansoeke
om toelating afstand kan doen.
Indien dit blyk
dat ‘n aansoek om toelating wesenlik foutiewe inligting bevat, word so ‘n
aansoek verwerp. Enige toelating wat op
grond van wesenlik foutiewe inligting verkry is, is ongeldig.
Bevoegdheid om ‘n leerder tot die skool toe te laat
Behoudens die
bepalings van die toelatingsbeleid het die skoolhoof die bevoegdheid om ‘n
leerder tot die skool toe te laat as hy/sy oortuig is dat aan al die veriestes
vir sodanige toelating voldoen word en dat daar redelikerwys ruimte,
fasiliteite en ander hulpbronne is om die betrokke leerder by die skool
(insluitend ‘n koshuis van die skool) te akkommodeer en aan die leerder se
opvoedkundige behoeftes te voldoen.
Algemene
kriteria wat by toelating in ag geneem moet word
By die oorweging
van elke aansoek om toelating, moet die skoolhoof die volgende faktore
behoorlik in ag neem –
Die toepaslike vereistes in die Regulasies.
Die feit dat die leerder se ouer of voog permanent in
die onmiddellike omgewing van die skool woonagtig is en die skool die naaste
redelikerwys toeganklike hoërskool aan sodanige woonplek is.
Die feit dat die leerder se ouer, broer of suster ‘n
leerder by die skool is of was.
Die redelike beskikbaarheid en toeganglikheid van
ander skole in die omgewing, waar die leerder se fundamentele regte op taal,
kultuur en godsdiens in onderwysverband behoorlik uitgeoefen kan word. Hierdie
oorweging is ook by koshuistoelating van belang.
Die werklike of potensiële akademiese vermoë van die
leerder.
Die vermoë van die leerder om Afrikaans voldoende te
verstaan en te gebruik aangesien die skool as Afrikaansmediumskool bedryf word.
Die oorweging dat voorkeur verleen moet word aan die
behoeftes van leerders wat reeds in die skool is en dat hulle ‘n redelike
geleentheid gegun moet word om hulle skoolopleiding by die skool te voltooi.
Enige ander faktor wat na die mening van die
skoolhoof of die beheerliggaam redelikerwys in ag geneem behoort te word by die
oorweging van ‘n aansoek om toelating.
Sekere besondere vereistes vir toelating tot die skool
Benewens enige
ander vereiste wat volgens die toelatingsbeleid of deur die reg gestel word of
gestel mag word, kan ‘n leerder net tot die skool toegelaat word
indien daar
ruimte, fasiliteite en ander hulpbronne in of by die skool (en sy koshuis) is
om die leerder te akkommodeer ingevolge die redelike norm dat die skool vol is
indien daar reeds meer as 650 leerders vanaf graad 8 tot graad 12 in totaal
toegelaat is en daar in die algemeen hoogstens 35 leerders per klas is (ook ten
aansien van keuse-vakke wat ‘n potensiële leerder wil aanbied):
Met dien
verstande dat indien ‘n potensiële leerder toelating verlang nadat die
skooljaar reeds amptelik begin het en wie se vakpakket nie ooreenstem met een
van die vakpakkette wat deur die skool aangebied word nie, sodanige toelating
slegs goedgekeur sal word indien daar besondere redes bestaan om toelating te
verleen en dit redelikerwys moontlik is om die leerder te akkommodeer.
Indien die leerder
nie ouer as die volgende ouderdom in die betrokke graad is nie:
Graad8: 14
jaar Graad 9: 15 jaar
Graad 10: 16
jaar Graad 11: 17 jaar
Graad 12: 18
jaar
Met dien verstande
dat die skoolhoof in sy uitsluitlike oordeel ‘n leerder wat dié ouderdom hierin
vasgestel plus 2 jaar in ‘n die betrokke jaar kan bereik, mag toelaat.
indien die leerder
se ouer skriftelik onderneem dat die leerder die gedragskode van die skool
(ingevolge artikel 8 van die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 daargestel)
stiptelik sal nakom en dat die ouer alle redelike stappe sal doen om sodanige
nakoming te verseker.
indien die leerder
se ouer skriftelik onderneem om die toepaslike skoolfonds te betaal deur
ondertekening van die standaard-ooreenkoms van die skool in hierdie verband.
Waglys
Indien ‘n leerder
nie tot die skool toegelaat word nie, maar die betrokke leerder wel vir
toelating kwalifiseer indien daar voldoende ruimte, fasiliteite en ander
hulpbronne by die skool beskikbaar is volgens die norme waarna in artikel 8.1
verwys is, moet die skoolhoof sodanige leerder se naam op ‘n waglys plaas. Die
skoolhoof kan op ‘n billike wyse toelating verleen aan leerders wie se name op
die waglys is, wanneer ruimte en fasliteite beskikbaar raak.