Hoe om te studeer
By die skool
1. Kom elke dag skool toe met die vaste voorneme
om daardie dag soveel as moontlik te leer.
2. Gee in die klaskamer
100% aandag aan die verduidelikings en opdrag van die onderwysers. As jy iets
nie goed begryp nie, moet jy dit dadelik aan die onderwyser sê.
3. Werk saam en probeer
so hard as jy kan om die vrae van die onderwysers te beantwoord. Steek jou hand op en
probeer!
4. Maak gebruik van jou
dagboek deur alle huiswerk, take en opdragte dadelik in te skryf by die datum wanneer
dit gereed moet wees.
5. Sorg dat jy alles by
jou het wat nodig is vir die dag: handboeke, skrifte, ’n liniaal, potlood,
uitveër, ’n goeie pen, ens., sodat dit nooit nodig is om in die klas van ’n
ander leerling iets te leen nie.
6. Kom goed voorbereid
skool toe en moenie tydens klaswisseling of pouses gou iets probeer leer wat jy
by die huis moes doen nie. As jy bekommerd is oor werk wat half voorberei is, kan jy
nie genoegsaam konsentreer op die les waarmee jy besig is nie. Hou jou elke
periode besig met die vak op jou rooster.
7. Wees selfstandig en
probeer eerder self ’n antwoord op ’n probleem uitwerk as om dit by ’n maat te
probeer kry.
Algemeen
1. Kweek
die regte gesindheid aan teenoor jou skoolwerk. Op stuk van sake werk jy in jou
eie belang.
2. Doen
alles netjies, deeglik en sistematies.
3. Probeer
altyd meer doen as wat aan jou opgedra word.
4. Oortuig
jouself van die belangrikheid van kennis. Die soektog na kennis kan ’n
opwindende sensasie wees.
5. Bespreek
met elke vakonderwyser die besondere studietegnieke wat van toepassing is op sy
betrokke vak.
6. ’n
Ware student het altyd ’n boek en ’n pen byderhand om belangrike dinge aan te
teken wat hy wil memoriseer.
7. Wees
eerlik en maak die beste gebruik van die talente wat aan jou toevertrou is.
8. Doen
smiddae eerste jou huiswerk.
9. Die
geheim van sukses op akademiese gebied is om gereeld te werk, op die regte
manier.
10. As jy
aan een of ander emosionele steurnis ly wat jou hinder in jou werk, ruim dit so
gou moontlik uit die weg. Raadpleeg jou ouers, vakonderwyser, voorligter,
ens. Daar is baie vriende in jou lewe wat jou graag wil help.
11. Wees
moedig en moenie bang wees vir inspanning nie. Alleen iemand wat inspanning
beoefen, is werklik geregtig op ontspanning.
Studiemetodes: Wenke
BEPLANNING VAN ROOSTERS
Bestee meer aandag aan die vakke
waarin jy swak
vaar. Voordat jy ’n rooster saamstel, moet jy eers bepaal hoeveel tyd jy tot
jou beskikking het en hoe doeltreffend jy dié tyd kan gebruik.
Wenke wat jou beslis sal
help om meer punte in skoolvakke te behaal:
I Wees in die regte
stemming:
1) Daar moet by jou ’n
wil wees om te leer en jy moet jou volle aandag aan jou werk gee.
II Ideale toestande vir
leer:
1) Die ideaal is om
alleen te wees.
2) Daar moet nie
stremming op jou oë wees nie.
3) Sit liewer op ’n
harde regop stoel en leer.
4) Sorg dat jou
lessenaar of tafel netjies is en alle handboeke en skrifte byderhand is.
5) Beplan jou werk:
besluit vooraf wanneer en waar jy gaan studeer. Dit word aanbeveel om
vir 45 minute te leer en vir 15 minute te rus.
6) Begin onmiddellik met
jou leerwerk – gaan sit voor jou boeke en konsentreer op jou werk.
III Basiese beginsels van
lees:
’n Goeie leser lees nie woord
vir woord nie, maar dele van sinne of selfs sinne as geheel.
Hy konsentreer met al
sy aandag op die leesstuk. Hy gebruik ook soveel as moontlik sintuie terwyl hy lees. Leer ook om te onderskei
tussen belangrike en minder belangrike leesstof.
IV Hoe
om te leer en te onthou:
Die volgende reëls sal jou
help om jou onthouvermoë te verbeter:
1) Verdeel jou
leerwerk in groot eenhede bv. hou al die werk wat oor een onderwerp handel
bymekaar. (Diagramme, tabelle, kaarte en opsommings kan met groot vrug gebruik
word.)
2) Leer die
geheel en nie slegs gedeeltes nie.
3) Probeer om die
betekenis van die geheel te kry deur bv. te kyk na die opsomming aan die einde
van die hoofstuk.
4) Wanneer jou
leerstof nie mooi inmekaar pas nie, probeer dan om dit te assosieer of te
verbind met iets wat bekend is.
5) Hou jou
aandag by jou werk en vermy meganiese herhaling.
6) Probeer om
jou leerstof te verstaan.
7) Maak logiese
opsommings van jou werk.
8) Doen
hersiening nadat jy ’n afdeling deurgewerk het, herhaal dit om vas te stel wat
jy daarvan onthou.
V As die eksamen op
hande is:
1) Moenie die
aand voor jy eksamen skryf te laat leer nie – ’n helder verstand is meer werd
as ’n warboel van feite.
2) Vermy
gesprekke oor die werk met vriende die volgende dag voor die eksamen.
3) Vermy
stimuleermiddels en wakkerblypille.
4) As jy die
vraestel kry, wees kalm en op jou gemak.
5) Lees die
instruksies op die vraestel deeglik deur voor jy begin skryf.
6) Beantwoord
die vraag wat aan jou gevra word en nie die een wat jy geleer het nie.
7) Beantwoord
die vraestel sistematies en moenie rondspring van een vraag na ’n ander nie.
8) As jy nog tyd aan die
einde oor het, lees die vrae nog ’n keer deur om seker te maak dat jy
nie onnodige foute gemaak het nie.