Aansoekvorm
Geagte Ouers/Voogde
U doen tans navraag oor een van die beste skole in die Wes-Kaap. Indien u reeds besluit het om u kind by die Hoërskool Stellenbosch in te skryf, wens ons u geluk met u keuse!
Indien u egter nog huiwer, raai ons u aan om die prospektus (beskikbaar by die skool) met al die inligting wat daarin vervat word, deeglik te bestudeer. U sal vind dat Hoërskool Stellenbosch onbetwisbaar 'n skool van uitnemendheid is.
Genestel in die skadu van die Pieke en die Simonsberg, kan ons spog dat:
- ons van die beste akademiese matriekuitslae in die provinsie behaal het - bykans 20% van die matriekklas het die afgelope jare met 'n A-gemiddeld geslaag;
- ons die toekenning van die Onderwysminister ontvang het as een van Top 15 skole in die Wes-Kaap, asook deur die Sunday Times as een van die Top 100 skole in Suid-Afrika aangewys is;
- ons 'n unieke, kompeterende vakkeuse aanbied, wat onder andere vakke soos Toerisme insluit wat by geen ander skool in die omgewing aangebied word nie;
- ons 'n bykans vrye vakkeuse het, danksy 'n innoverende nuwe roosterstelsel;
- ons 'n gemaklike, stimulerende leeromgewing skep met gesonde dubbelgeslag interaksie.
Om ons in staat te stel om u aansoek vir die toelating van u seun/dogter te oorweeg, word die volgende dokumente in die spesifieke volgorde benodig:
- die volledige voltooide aansoek (sien onderaan die bladsy);
- die volledige voltooide vertroulike verslag van die kandidaat-Stellie se huidige skoolhoof (sien onderaan die bladsy);
- 'n afskrif van die kandidaat-Stellie se laaste skooleksamenrapport;
- 'n afskrif van die kandidaat-Stellie se geboortesertifikaat of ID-dokument;
- die volledig ingevulde vakkeusevorm (nie nodig vir graad 8 en 9).
Indien omstandighede dit moontlik maak, sal daar met elke voornemende leerder en sy/haar ouers 'n onderhoud gevoer word.
Ons sien daarna uit om u aansoek te ontvang.
Stellies-groete,
AJ VAN WYK
SKOOLHOOF
HSS aansoekvorm [247 Kb]
HSS vertroulike verslag (huidige skoolhoof) [186 Kb]
|