Visie

Om jong volwassenes toe te rus om ’n volwaardige rol in die samelewing te speel.

Waardes

’n Eenvormige waardesisteem waaraan almal glo en wat almal onderhou is ’n vereiste vir sukses, prestasie, en ’n gelukkige skoolgemeenskap. Ons glo in respek, lojaliteit, uitnemendheid, integrasie, integriteit, selfverwesenliking, en die samelewing.

Respek vra vir my om trots op myself en my optrede te wees en almal om my se waardigheid te erken en hul standpunte te respekteer. Ek moet besef dat elke mens ’n unieke individu is by wie ek iets kan leer. Dit beteken ook dat ek my, die skool, en ander se eiendom bewaar.

Lojaliteit beteken dat ek ’n passie vir my skool en die mense om my het. Dit vra van my om positief teenoor my skool te wees en aktief mee te werk om die skool ’n beter plek te maak. Ons kan dinge bevraagteken en van mekaar verskil, solank ons dit op ’n manier  doen wat ander se waardigheid respekteer.

Uitnemendheid beteken dat ek alles wat ek doen, goed doen. Dit is die ingesteldheid om alle take, al is dit hoe moeilik, te voltooi. Dit vra van my om my take met die nodige energie en entoesiasme aan te pak.

Integrasie beteken om my verskillende talente op verskillende terreine te integreer sodat hulle mekaar kan aanvul. Dit help my om al my kanse aan te gryp en positiewe energie daaruit te put.

Integriteit beteken dat ek betroubaar en opreg moet wees. Dit vra van my om altyd die regte ding te doen, sonder om vergoeding te verwag.

Selfverwesenliking beteken dat ek myself, met al my eienaardighede, moet aanvaar. Dit vra van my om gelukkig te wees oor wie ek is en om te weet wat vir my belangrik is. Dit beteken dat ek my nie voortdurend met ander moet vergelyk nie en trots moet wees op die individu wat ek is.

Samelewing beteken dat ek besef dat ek deel is van ’n groter wêreld. Ek het ’n verantwoordelikheid teenoor my gemeenskap, my land, en my omgewing. Ek moet bewus wees van, en betrokke raak, by sosiale en omgewingskwessies. Hoewel die wêreld ’n groot plek is, kan ek steeds ’n verskil maak.