Stellies wen Interskole atletiek! |
2010-03-09 |
|
Hoërskool Stellenbosch en Hoërskool Labori het die afgelope paar jaar mekaar behoorlik die stryd op die atletiekbaan aangesê. Vanjaar is die pap nóg dikker aangemaak toe die byeenkoms 'n derde deelnemer bygekry het in die vorm van Hoërskool Montana.
Spannende en puik atletiek is deur al drie skole in die Dal Josafat-stadium in die Paarl opgelewer. Benewens al die puik prestasies het die aflosse soos altyd vir groot opwinding gesorg!
Hoërskool Stellenbosch se dogters het in alle ouderdomsgroepe met die louere weggestap!
Die o/19 seuns het ook hulle ouderdomsgroep gewen.
Groot was die vreugde op die pawiljoen toe Hoërskool Stellenbosch aangewys is as wenners van die sangbeker en toe was dit daarna 'n dubbele oorwinning met die atletiekbeker wat ook deur Hoërskool Stellenbosch verower is!
 Sangbeker vreugde: Athon Arnolds, Kay-Lee Pool, Jody Goodall, Renzo Muller, Raiza Crombie, Christia Visser en Liza Boshoff spring van vreugde!
Die volgende atlete het die beste in hul ouderdomsgroep presteer:
Dogters:
- o/14: Adia Piedt (Montana)
- o/15: Eliska Arrison (HSS)
- o/17: Lisa Vermeulen (HSS)
- o/19: Marista de Wet (Montana)
Seuns:
- o/14: Dean Olivier (HSS)
- o/15: Marlon Meisenheimer (Labori)
- o/17: Raynard Hurter (Labori)
- o/19: MacNeil Geduld (HSS)
Welgedaan, Stellies!
|
|
Stellies se tennissterre blink uit by Sun City! |
2010-03-07 |
|
Hoërskool Stellenbosch se o/15- en o/18-dogterstennisspanne het verlede week albei as waardige wenners vanaf Sun City teruggekeer en het in die proses R7,500 se prysgeld losgeslaan!
Die 0/15-dogters het in hulle afdeling puik wentellings teen Volkskool, Wilgerivier en Collegiate Girls High (Oos-Londen) ingeryg. In die semi-finaal klop hulle Eunice Girls High van Bloemfontein 8 - 0 en in die finaal klop hulle Hoër Meisieskool Bloemhof ook 8 - 0 om sodoende as wenners gekroon te word!
Die o/18-dogters het teen Hoër Meisieskool Bloemhof, Claredon, Volkskool, Collegiate Girls High (Oos-Londen) en Eunice Girls High (Bloemfontein) rondomtalie-wedstryde (round-robin) gespeel. In die finaal klop Stellies die sterk span van Eunice met 16 - 6!
 o/15-dogterstennisspan: Mnr. André Cruywagen, Elaine van Zyl (kaptein), Calize Bosman, Amy Olivier, Demi Rose, Janet Koch en Anché Nortjé (van Kainos Tennisakademie).
 o/18-dogterstennisspan: Mnr. André Cruywagen, Adri Lochner (kaptein), Ansunette van Zyl, Madri le Roux, Lani Scholtz, Kerstin Gressman en Anché Nortjé (van Kainos Tennisakademie).
Welgedaan, dis werklik puik prestasies!
|
|
Reis rondom die wêreld met Mej. & Mnr. HSS 2010! |
2010-03-06 |
|
Stellies nooi vriend en vyand uit om die jaarlikse Mej. & Mnr. HSS skouspel op Woensdag, 24 Maart 2010 by te woon!
Verrigtinge begin om 19h00 in die skoolsaal en die tema is From Stellenbosch to around the world.
Die 24 finaliste wat sake gaan uitspook vir die gesogte titel van Mej. & Mnr. HSS 2010 is:

|
Mej. HSS finaliste
- Lisa Boshoff
- Raiza Crombie
- Annei Kloppers
- Loren Moses
- Odile Petersen
- Kay-Lee Pool
- Laurita Rossouw
- Lani Scholtz
- Adelaide van der Heever
- Arina van der Merwe
- Ansunette van Zyl
- Christia Visser
|
Mnr. HSS finaliste
- Deon Gouws
- Werner van Dyk
- Kyle September
- Theodore Zhart
- Jason le Roux
- Eugene Ewenwel
- Keith Jansen
- Frikkie van Tonder
- Joseph Bosman
- Timothy Apples
- Renzo Muller
- Athon Arnolds
|
Sitplekkaartjies kos R40 en tafelkaartjies R50 (10 persone per tafel).
Kaartjies kan elke 2de pouse vanaf 15 Maart 2010 in die skool se voorportaal gekoop word.
Kontak gerus 082 437 8050 vir meer inligting, of as u belangstel om as 'n borg op te tree.
Kom reis saam - moenie hierdie glansgeleendheid misloop nie! |
|
Tweede kwartaal eindig eers op 9 Junie 2010! |
2010-03-05 |
|
Ouers en leerders moet asb. daarop let dat HSS eksamen skryf tot en met die heel laaste dag van die 2de kwartaal, naamlik Woensdag 9 Junie 2010.
Leerders moet die eksamen aflê en kan nie vertrek voordat die eksamen afgehandel is nie.
Ouers moet dus asb. nie enige voortydige vakansiereëlings tref nie - dit is reeds 'n kort kwartaal en lang vakansie en ons probeer elke moontlike dag tot ons beskikking vir onderrig gebruik!
Alle ouers en leerders se samewerking sal in hierdie verband waardeer word.
|
|
HSS hou Opedag op 3 Mei 2010! |
2010-03-02 |
|
Vanjaar se Opedag vir voornemende leerders en hulle ouers vind op Maandag, 3 Mei 2010 plaas.
Die Opedag sal duur vanaf 16h30 tot 18h30.
Kom maak gerus 'n draai en ervaar ons skool vir uself!
|
|
Sportuitslae: Kyle Crotz kraai koning by Boland skaakproewe! |
2010-02-21 |
Kyle Crotz, 'n graad 10 leerder, het eerste geëindig in die Boland skaakproewe se o/18-afdeling! Voorwaar 'n merkwaardige prestasie!
HSS se o/15A dogterstennisspan het op 15 Februarie 2010 vir Bloemhof se o/15A tennisspan met 6 - 0 gewen. 'n Puik prestasie!
HSS se eerste seunstennisspan het Gimnasium se eerste tennisspan 9 - 0 gewen. 'n Uitslag om op trots te wees!
Welgedaan aan al hierdie uitblinker-Stellies!
|
|
Louis skitter in water! |
2010-02-15 |
Louis Aucamp het gedurende die Desembervakansie geskitter by die WP Swemkampioenskappe.
Hy het vanaf 11 tot 15 Desember in die ouderdomsgroep 14-15 jaar deelgeneem en het die volgende uitstekende uitslae behaal:
- 50m vryslag: Tweede plek
- 100m vryslag: Eerste plek
- 200m vryslag: Eerste plek
- 400m vryslag: Eerste plek
- 800m vryslag: Eerste plek
- 1500m vryslag: Eerste plek
Louis het boonop die WP-rekord in die 100m vryslag, wat vir 12 jaar gestaan het, gebreek. Hy was ook lid van die Maties A-aflosspan wat die WP-rekord in die 4 x 200m vryslag gebreek het.
Gedurende die naweek van 9 en 10 Januarie het Louis aan die WP Oopwaterkampioenskap in die ouderdomsgroep 14 tot 15 jaar deelgeneem. Hier behaal hy eerste plekke vir 1km, 3km en 5km!
Louis kwalifiseer gevolglik ook om in April aan die Nasionale Oopwaterkampioenskap deel te neem.
Verder het Louis ook vanaf 29 Januarie tot 2 Februarie in Luxembourg, Duitsland, aan 'n Europese byeenkoms deelgeneem waar hy 1 silwer- en 3 bronsmedaljes in die o/15-ouderdomsgroep verower het.
Louis, Hoërskool Stellenbosch is voorwaar trots op jou!
|
|
Ruan behaal sukses met jukskei! |
2010-02-15 |
|
Ruan Diedericks is gekies as lid van die o/19A Boland Jukskeispan wat 'n silwermedalje behaal het nadat hulle met slegs 1 punt verloor het teen die wenspan wat 74 punte behaal het. Ruan het sy span gehelp om 25 uit 'n moontlike 28 wedstryde te wen.
Ruan is ook gekies as lid van die o/16 Suid-streekspan wat goud verower het.
Ruan sal gedurende die Julie-skoolvakansie aan die Nasionale Jukskei-kliniek deelneem.
Veels geluk, Ruan!
|
|
Kry jou HSS 2010 dagboek elektronies! |
2010-01-27 |
|
HSS se 2010 dagboek kan nou ook elektronies afgelaai word.
Die dagboek is propvol handige inligting, onder andere:
- HSS se pos-, straat en e-pos adresse;
- Telefoonnommers;
- Bankbesonderhede;
- Skoolkwartale;
- Openbare vakansiedae;
- Personeel;
- Leerderrade, VRL, Beheerliggaam en HK;
- Komitees van Beheerliggaam;
- Skool- en volkslied;
- Skooldrag en voorkoms;
- Gedragskode;
- Skoolgelde;
- Erekleure, toekennings en prysuitdeling;
- Skoolrooster;
- Eksamenrooster;
- Dagbeplanning;
- 2010 en 2011 kalenders;
- Kloktye;
- en veel meer!
Kry joune nou!
|
|
Graad 8's nou volwaardige Stellies! |
2010-01-18 |
Die eerste week van hoërskoollewe is dikwels een van angs vir nuwelinge, spesifiek vir die graad 8's. Gelukkig het die Matriekraad van 2010 vanaf Dinsdag 12 Januarie tot die Vrydagaand met deeglike voorbereiding gesorg vir hope pret en 'n opbouende verwelkomingsprogram.
Hierdeur is verseker dat die groep hulle voete sommer gou in HSS kon vind. Die verwelkoming het geëindig met 'n seremonie waartydens die graad 8's hul dagboeke ontvang het en as volwaardige Stellies ingehuldig is.
Deur die loop van die week het die groep in verskillende spanne met behulp van hul MR-"offisiere" aan boeresport, ysbrekers, skattejagte, 'n klein atletiekbyeenkoms en konserte deelgeneem.
Die terugvoering van die graad 8's was baie positief.
Baie was hartseer dat die week so vinnig verbygegaan het, ten spyte van al die uitputting!
Die verwelkomingsprogram was as 'n geheel baie suksesvol - 'n positiewe eerste herinnering wat lank onthou sal word!
|
|